Taal

'n Muurskildery in Teotihuacán, Meksiko (ca. 200 n.C.) wat 'n persoon uitbeeld met 'n banderol uit sy mond, wat spraak simboliseer.
Wigskrif is die eerste bekende vorm van geskrewe taal, maar gesproke taal loop skryfkuns vooruit met ten minste tienduisende jare.
Twee meisies wat Amerikaanse gebaretaal leer.
Braille-skrif verteenwoordig taal in 'n tasbare vorm.

Taal is die menslike vermoë vir die aanleer en gebruik van ingewikkelde sisteme van kommunikasie, en 'n taal is enige spesifieke voorbeeld van so 'n sisteem. Die wetenskaplike bestudering van taal word linguistiek of taalkunde genoem.

Ramings oor die aantal tale in die wêreld wissel tussen 6 000 en 7 000. Enige akkurate raming steun egter op 'n gedeeltelik arbitrêre onderskeiding tussen tale en dialekte. Natuurlike tale word gepraat of gewys, maar enige taal kan gekodeer word na sekondêre media met behulp van hoorbare of tasbare stimuli, byvoorbeeld skrif, braille of fluit. Dit is moontlik omrede menslike taal modaliteit-onafhanklik is. Met gebruik as algemene konsep, kan "taal" verwys na die kognitiewe vermoë om komplekse kommunikasiestelsels aan te leer en te gebruik, of om die stel reëls wat hierdie sisteme opmaak te beskryf, of die stel uitsprake wat gelewer kan word vanuit die reëls. Alle tale steun op die proses van semiose, om tekens in verband te bring met spesifieke betekenisse. Mondelingse en gebaretale bevat 'n fonologiese stelsel wat beheer hoe simbole gebruik word om reekse bekend as woorde of morfeme te vorm, en 'n sintaktiese sisteem wat weer beheer hoe woorde en morfeme saamgevoeg word om uitdrukkings en sinsdele te vorm.

Menslike taal is uniek aangesien dit die eienskappe van produktiwiteit, rekursie en verplasing, besit en omdat dit totaal afhanklik is van sosiale konvensie en aangeleer moet word. Die ingewikkelde struktuur leen homself tot 'n heelwat wyer reeks van moontlike uitdrukkings en gebruike as enige bekende sisteem van dierkommunikasie. Taal, word vermoed, het ontstaan nadat vroeë hominine begin het om geleidelik hulle primaat-kommunikasiesisteme te verander en die vermoë bekom het om 'n teorie te vorm van 'n ander se gedagtes en 'n gedeelde intensionaliteit.

Hierdie ontwikkeling, word soms bespiegel, het saamgeval met die vergroting in breinvolume, en heelwat taalkundiges beskou die evolusie van die strukture van taal as spesifiek vir kommunikatiewe en sosiale doeleindes. Taal word op verskeie plekke in die menslike verstand verwerk, maar veral in Broca en Wernicke se sentrum. Mense leer taal van vroeg af aan deur sosiale interaksie in hul kinderjare, en kinders praat gewoonlik al vlot rondom driejarige ouderdom. Die gebruik van taal is diep gewortel in die menslike kultuur. Daarom, bykomend tot sy streng kommunikatiewe gebruike, het taal ook verskeie sosiale en kulturele gebruike, soos die aandui van groepsidentiteit, sosiale stratifikasie asook sosiale versorging en vermaak.

Tale ontwikkel en diversifiseer met tyd, en die geskiedenis van hul evolusie kan gerekonstrueer word deur moderne tale te vergelyk om vas te stel watter eienskappe hulle erftale moes besit vir die latere stadiums om te kan voorkom. 'n Groep tale wat afstam van 'n gesamentlike voorganger staan bekend as 'n taalfamilie. Die mees gesproke tale in die wêreld vandag behoort aan die Indo-Europese familie, wat tale insluit soos Engels, Spaans, Portugees, Russies en Hindi; die Sino-Tibettaanse tale, wat Mandaryns, Kantonees en nog heelwat ander insluit; die Afro-Asiatiese familie wat uit Arabies, Amharies, Somalies en Hebreeus bestaan; en die Bantoetale wat Swahili, Zoeloe, Shona en honderde ander tale insluit wat regdeur Afrika gepraat word. Die konsensus is dat tussen 50% en 90% van die tale wat tans gepraat word uitgesterf sal wees teen 2100.[1][2]

Definisies

Die Afrikaanse/Nederlandse woord "taal" stam oorspronklik van die Indo-Europese *"dol-" af wat in Germaans "talō" geword het, wat beide "om te tel" en "vertel" of "spreek" beteken. Die Engelse woord "tale" het sy oorsprong ook van hier af. "Tel/tal" en "taal" deel 'n oorsprong in betekenis hoewel die eersgenoemde verander het om syferwerk te beteken. Die woord "vertel" dui nog op die ou gesamentlike betekenis.[3] Die woord word soms gebruik om te verwys na kodes, geheime skrifte en ander tipes kunsmatig saamgestelde kommunikasiestelsels soos in die gebruik vir rekenaarprogrammering. 'n Taal in hierdie opsig is 'n sisteem van tekens, vir enkodering en dekodering van inligting. Hierdie artikel is spesifiek gemoeid met die eienskappe van natuurlike menslike taal soos dit bestudeer word in die vakgebied taalwetenskappe of taalkunde (linguistiek).

As 'n voorwerp van taalkundige studie, het "taal" twee vername betekenisse: 'n abstrakte konsep, en 'n spesifieke taalkundige sisteem, byvoorbeeld "Frans". Die Switserse taalkundige Ferdinand de Saussure, wat die moderne vakgebied van taalkunde gedefinieer het, het eerstens eksplisiet hierdie onderskeiding geformuleer deur gebruik te maak van die Franse woord langage vir taal as 'n konsep, langue as 'n bepaalde instansie van 'n taalsisteem, en parole vir die konkrete gebruik van spraak in 'n bepaalde taal.[4]

Wanneer daar van taal gepraat word as 'n algemene konsep kan definisies gebruik word wat die verskillende aspekte van die verskynsel uitlig.[5] Die definisies bring ook verskillende benaderings en begrippe van taal mee, en hulle belig weer verskeie en soms teenstrydige skole van taalkundige teorie.[6]

Verstandelike vermoë, orgaan of instink

Een definisie beskou taal vernaam as die verstandelike vermoë wat mense in staat stel om linguistiese gedrag te onderneem: om tale aan te leer en uitinge te vorm en verstaan. Die definisie belig die universaliteit van taal tot alle mense en lê klem op die biologiese basis vir die menslike vermoë vir taal as 'n unieke ontwikkeling van die menslike verstand. Voorstanders van die siening dat die dryfkrag agter taalverwerwing ingebore is, beweer gereeld dat dit ondersteun word deur die feit dat alle kognitief normale kinders, wat groot word in 'n omgewing waar taal toeganklik is, dit sal aanleer sonder formele onderrig. Taal kan spontaan ontwikkel in omgewings waar mense lewe of saam grootword sonder 'n gemeenskaplike taal, byvoordeel kreooltale en spontaan ontwikkelde gebaretale soos Nicaraguaanse gebaretaal. Die siening wat teruggeneem kan word na Kant en Descartes, verstaan taal oor die algemeen as grootliks ingebore, soos byvoorbeeld Chomsky se teorie van Universele Grammatika, of die Amerikaanse filosoof Jerry Fodor se ekstreme ingeboorteteorie. Hierdie tipe definisies word algemeen toegepas deur taalstudies binne 'n kognitiewe wetenskapraamwerk en in neurolinguistiek.[7][8]

Formele simbolestelsel

Nog 'n definisie beskou taal as 'n formele sisteem van tekens wat beheer word deur grammatikareëls van kombinasies om betekenis te kommunikeer. Die definisies beklemtoon dat menslike tale beskryf kan word as geslote gestruktureerde stelsels bestaande uit reëls wat bepaalde tekens koppel aan bepaalde betekenisse.[9] Hierdie strukturalistiese siening van tale is aanvanklik deur Ferdinand de Saussure voorgestel,[10] en sy strukturalisme bly fundamenteel vir meeste benaderings tot taal vandag.[11]

Sommige voorstanders van hierdie uitgangspunt oor taal bepleit 'n formele benadering met die bestudering van taalstrukture deur die identifisering van sy basiese elemente, en daarna deur die saamstel van 'n formele betekenis van die reëls waarvolgens die elemente saamkom om woorde en sinne te vorm. Die vernaamste voorstander van so 'n teorie is Noam Chomsky, die vader van die generatiewe teorie van grammatika, wat taal beskryf as 'n spesifieke stel sinne wat gegenereer kan word vanuit 'n bepaalde stel reëls.[12] Chomsky beskou die reëls as 'n ingebore eienskap van die menslike verstand en om die kern van wat taal is saam te stel[13] Formele definisies van taal word algemeen gebruik in formele logika, formele teorieë van grammatika en toegepaste rekenaarlinguistiek.[14][15]

Gereedskap vir kommunikasie

Twee mans en vrouens wat 'n gesprek voer in Amerikaanse gebaretaal.

Weer 'n ander definisie sien taal as 'n sisteem van kommunikasie wat mense in staat stel om saam te werk. Die definisies lê klem op die sosiale rol van taal en die feit dat mense dit gebruik om hulself uit te druk en voorwerpe in hulle omgewing te manipuleer. Funksionele teorieë van grammatika verduidelik grammatikale strukture deur hulle kommunikatiewe funksies, en verstaan dat die grammatikale strukture van tale die eindproduk is van 'n aanpassingsproses waarvolgens grammatika "pasgemaak" is om die kommunikatiewe belange van sy gebruikers te dien.[16][17]

Hierdie beskouing van taal word geassosieer met die studie van taal in pragmatiese, kognitiewe en interaktiewe raamwerke, asook in sosiolinguistiek en taalkundige antropologie. Funksionalistiese teorieë neig om grammatika te bestudeer as dinamiese verskynsels, as strukture wat heeltyd in 'n proses van verandering verkeer soos dit aangewend word deur sy sprekers. Die beskouing plaas belangrikheid op die studie van linguistiese tipologie of die klassifikasie van tale volgens strukturele eienskappe, soos aangedui kan word dat prosesse van grammatikalisering geneig is om trajekte te volg wat gedeeltelik afhanklik is van tipologie. In die filosofie van taal word die sienings dikwels geassosieer met Ludwig Wittgenstein se latere werke en gewone taalfilosowe soos Paul Grice, John Searle en J. L. Austin.[15]

Die unieke status van menslike taal

Menslike taal is uniek in vergelyking met ander vorms van kommunikasie, soos gebruik deur diere. Kommunikasiesisteme wat deur ander diere gebruik word soos bye of ape is geslote sisteme wat bestaan uit 'n vaste aantal moontlike dinge wat uitgedruk kan word.[18]

In teenstelling is menslike taal oop en produktief, wat beteken dat dit mense toelaat om 'n eindelose stel uitinge voort te bring vanuit 'n eindige stel elemente, en om nuwe woorde en sinne op te diep. Dit word moontlik gemaak omdat menslike taal gebaseer is op 'n tweeledige kode, waar 'n vaste aantal betekenislose elemente (bv. Klanke, letters en gebare) gekombineer kan word om eenhede van betekenis te vorm (woorde en sinne).[19] Bowendien is die simbole en grammatikale reëls van enige taal grootliks arbitrêr, menende dat die sisteem slegs aangeleer kan word deur sosiale interaksie.[20] Die bekende kommunikasiestelsels wat aan die ander kant deur diere gebruik word, kan slegs 'n vaste aantal uitinge oplewer wat meestal geneties oorgedra word.[21]

Talle dierespesies toon die vermoë om kommunikasievorms aan te leer deur sosiale onderrig, soos die Bonobo Kanzi, wat geleer is om homself uit te druk met behulp van 'n stel simboliese leksiegramme. Ooreenkomstig leer heelwat walvis- en voëlspesies hulle gesange aan deur ander lede van die groep na te maak. Hoewel sommige diere 'n groot aantal woorde en simbole kan aanleer,[notas 1] kon nie een nog soveel verskillende tekens aanleer soos wat algemeen geken word deur 'n 4 jarige mens nie, ook het nie een al enige iets kon aanleer wat die komplekse grammatika van menslike taal reflekteer nie.[22]

Menslike taal verskil ook van dierekommunikasiesisteme deurdat dit gebruik maak van grammaties en semantiese kategorieë, soos die selfstandige naamwoord en werkwoord, hede en verlede, om uitermate ingewikkelde betekenisse uit te druk.[22] Menslike taal is ook uniek omdat dit rekursiwiteit besit: die manier waarop byvoorbeeld 'n selfstandige naamwoordstuk die vermoë het om 'n ander selfstandige naamwoordstuk te bevat (soos in "[[die sjimpansee] se lippe]") of 'n sinstuk wat 'n sinstuk kan bevat (soos in "[Ek sien [die hond hardloop]]").[23] Menslike taal is ook die enigste natuurlike kommunikasiesisteem wat modaliteit-onafhanklik is, betekende dat dit nie net vir kommunikasie gebruik kan word deur een kanaal of medium nie, maar deur verskeie – die gesproke taal gebruik byvoorbeeld ouditiewe modaliteit terwyl gebaretale en skryfkuns van visuele modaliteit gebruik maak, en braille-skryfwerk weer van tasbare modaliteit.[24]

In ag genome die bedoeling wat dit kan oordra en die kognitiewe prosesse waarop dit bou, is menslike taal ook uniek aangesien dit die vermoë het om na abstrakte konsepte en veronderstelde of hipotetiese gebeure te verwys, asook gebeure wat in die verlede plaasgevind het of in die toekoms gaan plaasvind. Hierdie vermoë om te verwys na gebeure wat nie in dieselfde tyd of plek as die spraakgebeurtenis is nie word verplasing genoem, en hoewel sommige dierekommunikasiesisteme van verplasing gebruik kan maak (soos met die kommunikasie van bye wat die ligging en bronne van nektar buite sig kan oordra), word die mate waartoe dit in menslike taal gebruik word ook as uniek beskou.[19]

Other Languages
Acèh: Bahsa
Alemannisch: Sprache
አማርኛ: ቋንቋ
aragonés: Luengache
Ænglisc: Sprǣc
العربية: لغة
مصرى: لغه
অসমীয়া: ভাষা
asturianu: Llinguaxe
Aymar aru: Aru
azərbaycanca: Dil
تۆرکجه: دیل
Boarisch: Sproch
žemaitėška: Kalba
беларуская: Мова
беларуская (тарашкевіца)‎: Мова
भोजपुरी: भाषा
bamanankan: Kan
বাংলা: ভাষা
བོད་ཡིག: སྐད་རིགས།
brezhoneg: Yezh
bosanski: Jezik
буряад: Хэлэн
català: Llenguatge
Mìng-dĕ̤ng-ngṳ̄: Ngṳ̄-ngiòng
Cebuano: Pinulongan
Chamoru: Lengguahe
کوردی: زمان
словѣньскъ / ⰔⰎⰑⰂⰡⰐⰠⰔⰍⰟ: Ѩꙁꙑкъ
Чӑвашла: Чĕлхе
Cymraeg: Iaith
dansk: Sprog
Deutsch: Sprache
ދިވެހިބަސް: ބަސް
Ελληνικά: Γλώσσα
emiliàn e rumagnòl: Langua
English: Language
Esperanto: Lingvo
español: Lenguaje
eesti: Keel
euskara: Hizkuntza
فارسی: زبان
suomi: Kieli
føroyskt: Mál
français: Langage
arpetan: Lengoua
Nordfriisk: Spräke (iinjtål)
furlan: Lengaç
Frysk: Taal
贛語: 語言
Gàidhlig: Cànan
galego: Linguaxe
گیلکی: زوان
Avañe'ẽ: Ñe'ẽ
गोंयची कोंकणी / Gõychi Konknni: भास आनी भासविज्ञान
ગુજરાતી: ભાષા
客家語/Hak-kâ-ngî: Ngî-ngièn
עברית: שפה
हिन्दी: भाषा
Fiji Hindi: Bhasa
hrvatski: Jezik
Kreyòl ayisyen: Lang (pawòl)
magyar: Nyelv
Հայերեն: Լեզու
interlingua: Linguage
Bahasa Indonesia: Bahasa
Interlingue: Lingue
Iñupiak: Uqautchit
Ilokano: Pagsasao
ГӀалгӀай: Мотт
Ido: Linguo
íslenska: Tungumál
italiano: Linguaggio
日本語: 言語
Patois: Languij
la .lojban.: bangu
Basa Jawa: Basa
ქართული: ენა
Kongo: Ndînga
kalaallisut: Oqaatsit
ភាសាខ្មែរ: ភាសា
ಕನ್ನಡ: ಭಾಷೆ
한국어: 언어
Перем Коми: Кыв
къарачай-малкъар: Тил
Ripoarisch: Sprooch
kurdî: Ziman
коми: Кыв
kernowek: Yeth
Кыргызча: Тил
Latina: Lingua
Lëtzebuergesch: Sprooch
лезги: ЧIал
Lingua Franca Nova: Lingua
Limburgs: Taol
lumbaart: Idioma
lingála: Lokótá
ລາວ: ພາສາ
lietuvių: Kalba
latgaļu: Volūda
latviešu: Valoda
मैथिली: भाषा
Basa Banyumasan: Basa
Malagasy: Fiteny
олык марий: Йылме
Baso Minangkabau: Bahaso
македонски: Јазик
മലയാളം: ഭാഷ
монгол: Хэл
मराठी: भाषा
Bahasa Melayu: Bahasa
မြန်မာဘာသာ: ဘာသာစကား
مازِرونی: زوون
Napulitano: Lengua
Plattdüütsch: Spraak
Nedersaksies: Taol
नेपाली: भाषा
नेपाल भाषा: भाषा
Nederlands: Taal
norsk nynorsk: Språk
norsk: Språk
Novial: Lingues
Nouormand: Laungue
occitan: Lengatge
ଓଡ଼ିଆ: ଭାଷା
Ирон: Æвзаг
ਪੰਜਾਬੀ: ਭਾਸ਼ਾ
Papiamentu: Idioma
Picard: Langache
Deitsch: Schprooch
पालि: भाषा
Norfuk / Pitkern: Laenghwij
Piemontèis: Langagi
پنجابی: بولی
پښتو: ژبه
português: Linguagem
Runa Simi: Rimay
rumantsch: Lingua
Romani: Chhib
armãneashti: Limbâ
русский: Язык
русиньскый: Язык
संस्कृतम्: भाषा
саха тыла: Тыл (саҥарар)
sardu: Limbas
Scots: Leid
سنڌي: ٻولي
davvisámegiella: Giella
srpskohrvatski / српскохрватски: Jezik
සිංහල: භාෂාව
Simple English: Language
slovenčina: Jazyk (jazykoveda)
Gagana Samoa: Gagana
chiShona: Mutauro
Soomaaliga: Luuqad
српски / srpski: Језик
Sranantongo: Tongo
Sesotho: Dipuo
Seeltersk: Sproake
Basa Sunda: Basa
svenska: Språk
Kiswahili: Lugha
ślůnski: Godka
தமிழ்: மொழி
ತುಳು: ಭಾಷೆ
తెలుగు: భాష
тоҷикӣ: Забон
ไทย: ภาษา
Türkmençe: Dil
Tagalog: Wika
Tok Pisin: Tokples
Türkçe: Dil
Xitsonga: Ririmi
татарча/tatarça: Тел
українська: Мова
اردو: زبان
oʻzbekcha/ўзбекча: Til
vèneto: Łéngua
vepsän kel’: Kel'
Tiếng Việt: Ngôn ngữ
Volapük: Pük
walon: Lingaedje
Winaray: Yinaknan
Wolof: Kàllaama
吴语: 語言
isiXhosa: Ulwimi
მარგალური: ნინა
ייִדיש: שפראך
Yorùbá: Èdè
Zeêuws: Taele
中文: 語言
文言: 語言
Bân-lâm-gú: Giân-gú
粵語: 語言